Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS - SONDAG 10 JULIE 2011

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Oudio is ook beskikbaar via die internet by www.sarl.org.za. Klik op 'Amateur Radio Today' en volg die skakels soos aangedui. Let asseblief op: Vir oudio via Echolink, koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 7,066 en 3,695 MHz ESB. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)

In die nuus vandag:

SPAN RAPPORTEER HABEX ’N SUKSES

’N ANDER HOLLYWOODSE FIKSIEFILM BETREK AMATEURRADIO

DURBAN RTA BIED ’N OPDATERING VAN ARISSAT AAN

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.

SPAN RAPPORTEER HABEX ’N SUKSES

Die Groot Hoogte Balloneksperiment wat op 2 Julie vanaf die Klerksdorpse vliegveld gelanseer is, was ’n groot sukses. Die ballon het kort na 09:00 SAT die grond verlaat en het in ’n Ooswaartse rigting koers gekies. Alle loonvragstelsels het suksesvol gewerk en al die volgvoertuie kon die APRS-pakkette volg wat deur die onderskeie eenhede uitgestuur is. Gedurende die eerste gedeelte van die stygfase het die ballon teen ’n gemiddelde spoed van 18,2 km/u gestyg wat later tot ’n matige stapspoed van 11 km/u tot die einde van die vlug afgeneem het. Horisontale grondspoed het gepiek by 183,59 km/u en het volgens ZS6ERB-9 ’n finale hoogte van 33 661 m bereik.

In alle opsigte was die lansering ’n sukses en is die span baie gelukkig met die uitslag. Daar is egter ’n aantal aspekte wat reggestel moet word en die span sal in die nabye toekoms terug wees om dit te toets. Die lansering was deel van die Klerksdorpse Hamfest-aktiwiteite.

Die loonvrag het uit vier onafhanklike eenhede bestaan. Eerste in lyn was ’n beheereenheid wat spesifiek deur die HABEX-groep ontwerp en gebou is. Die beheereenheid is in staat om ’n kombinasie van 8 insette en 8 uitsette in óf digitale óf analoogmodusse te aanvaar. Ook op die bord is sy eie APRS volgeenheid en ’n PIC-eenheid wat deur ’n BHF-radio met grondstasies kan kommunikeer.

Volgende in die loonvragstring was ’n tweede APRS-volgeenheid en kruisbandherhaler wat baie gedurende die vlug vir span- sowel as algemene kontakte gebruik was. Onder die herhaler was ’n GG-baken op 7,020 en laastens ’n videokamera en ’n derde APRS-eenheid.

Die hoofdoel van die vlug van 2 Julie was om vas te stel of die APRS-komponente wat op die beheereenheid gebruik is behoorlik op groot hoogtes sal werk. Met vorige vlugte het die GPS-eenheid op ongeveer 12 000 m ophou werk a.g.v. beperkings op sy bedryfshoogte.

Nadat die beheereenheid homself bewys het, kan verskeie eksperimente die hoogte ingeneem word met die ekstra gewig van rugsteun APRS-eenhede wat in die verlede gebruik is.

Meer inligting, foto’s en ’n video kan gevind word op www.habex.za.net.

’N ANDER HOLLYWOODSE FIKSIEFILM BETREK AMATEURRADIO

Super 8, ’n storie wat net buite Dayton, Ohio, in 1979 afspeel, gebruik amateurradio in ’n kritieke opset. Die storie wentel rondom ’n groep van ses midskoliere wat ’n raaiselagtige treinongeluk in die denkbeeldige dorp Lillian waarneem. Kort na die ongeluk arriveer die lugmag en snaakse dinge begin in die klein dorpie gebeur. Die kinders, ’n groep jong filmmakers (Daarom die naam van die film) begin om die grillerige gebeurtenisse te ondersoek.

Een van die kinders se pa is onderbalju Lamb. Nadat die balju geheimsinnig verdwyn, neem onderbalju Lamb oor en hou hy ’n vergadering van dorpsinwoners ten einde te help om die vrese te besweer. Maar toe onderbalju Lamb vir Mnr. McCandless vra om ’n vraag te vra, kla die man dat hy vreemde uitsendings op sy amateurradio hoor. Sodra Mnr. McCandless amateurradio noem, ignoreer die inwoners hom eenvoudig.

Maar wanneer onderbalju Lamb Mnr. McCandless privaat ondervra, vertel hy aan die onderbalu dat hy nie meer na 13,201 (kHz of MHz word nie genoem nie) kan luister nie, as gevolg van geheimsinnige geraas wat hy hoor. Onderbalju Lamb noem dit aan ’n ander onderbalju en dié sê hy kan sy skandeerder en spraakomsetter bring sodat hulle die frekwensie kan monitor. Nadat die toestelle opgestel is, hoor die onderbalju’s belangrike inligting oor wat die lugmag probeer om weg te steek.

Terwyl krediet gegee moet word aan Super 8, se stelopsteller, Fainche MacCarthy, om ’n radio uit die regte era op te spoor, is wat die onderbalju inbring ’n Heathkit Seneca VHF-1‘skandeerder’ en ’n twee- en sesmeter GG- en AM-sender. Vervaardig in 1959 het hierdie stelle Heathkit se TX-1 Apache sender, RX-1 Mohawk ontvanger en die KL-1 Chippewa liniêre versterker aangevul.

Super 8 begin op 29 Julie 2011 in Ster-Kinekor teaters in Suid-Afrika draai. Om ’n voorprent te sien, besoek http://www.sterkinekor.com/#/trailer/3125/Super 8/.

DURBAN RTA BIED ’N OPDATERING VAN ARISSAT AAN

Die program van die simposium Radiotegnologie-in-Aksie wat vir 30 Julie in Durban geskeduleer is, sal ’n opdatering van ARISSAT wat SuitSat 2 vervang, insluit. Dit word verwag dat ARISSAT teen die einde van Julie of vroeg in Augustus, tydens ’n ruimtewandeling van die Russiese ruimtevaarders uit die Internasionale Ruimtestasie gelanseer sal word. Eddie Leighton, ZS6BNE, sal ’n aanbieding oor RaDAR doen, wat in die RTA’s in Kaapstad en Port Elizabeth baie aandag geniet het. In die tegnologiegleuf sal John Willescroft, ZS6EF, praat oor FPGA’s en hulle toepassing. Die volle program is beskikbaar op www.sarl.org.za, kies RTA uit die linkerhandse spyskaart.

NUWE LEDE

Die SARL verwelkom die volgende nuwe lede: ZSL1028, Hendrik du Plessis, ZS6XXX, Andries Nortje en ZSL1029, Nico Coetzee.

LIDMAATSKAPHERNUWINGS

707 Lede tot dusvêr hulle lidmaatskap hernu. Dit was nodig om op 1 Julie 2011 lidmaatskap te hernu. Lede word aangemoedig om hulle ledegeld so spoedig moontlik te betaal. Indien dit der middel van ’n bankoordrag of bankdeposito gedoen word, maak asb. seker dat u naam en roepsein op die oordrag verskyn. Ons waardeer u volgehoue ondersteuning.

KOMPETISIENUUS

ZS4 NAELLOOP UITSLAE VERBTERING

Die uitslae van hierdie jaar se ZS4 Naelloop wat verlede Sondag bekend gemaak is, is aangepas deur die klub kompetisie komitee nadat Pieter Human, ZS6PA, se navraag hierdie week. Sy log is opgespoor en bygewerk. Baie geluk aan Pieter wat dan nou die derde plek met 62 punte inneem.

UITSLAE VAN DIE TOPBANDKOMPETISIE 23/27 JUNIE 2011

Dit is weereens duidelik dat amateurs nie die kompetisiereëls lees voordat hulle aan kompetisies deelneem nie. Behalwe die gebruik van verkeerde roepseine het party nie van frekwensie verander nadat ’n kontak afgesluit is nie.

8 logstate en een kontrolelog is ontvang. Statistiek uit die logstate verkry toon dat daar 43 stasies op die lug was. Daar was geen kontakte met stasies in Afdeling 3 nie. Daar was ses stasies wat van GG en ESB gebruik gemaak het.

Die uitslae is as volg:

1ste ZS6LH - Lukas Holtzhausen 145 punte
2de ZS6UT - Ed Willers 127 punte
3de ZS6PVT - Phillip van Tonder 118 punte

Die wenner in die gelukstrekking is Liddle, ZS6AGF.

Veels geluk aan die wenners. Die volle uitslae sal in HF Happenings gepubliseer word.

HF VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat die verwagte sonaktiwiteit op baie lae tot lae vlakke sal wees. Sonvlek 1 243 produseer tans B- en C-klas fakkels terwyl hy besig is om oor die Noordelike halfrond te roteer. 'n Paar nuwe sonvlekke is besig om in die Noord-Ooste te ontstaan en een van hulle is op Donderdag as 1 245 gedoop. Daar is tans nie 'n moontlikheid vir sonfakkels vanuit hierdie gebied nie. Vir diegene wat hulle eie frekwensievoorspellings doen is die verwagte effektiewe sonvlektelling vir die week minder as 25.

Met winter hier en die laer sonaktiwiteit is 20 m die beste keuse vir DX gevolg deur 30 m. Daar is nie 'n goeie kans vir sporadiese 15 m openinge nie.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

16 Julie – 3de been van SARL QRP-kompetisie.
27 Julie – 4de been van SARL Klubkompetisie.
30 Julie – RTA in Durban.
07 Aug. - SARL HF-foonkompetisie.
09 Aug. - SARL JD-naelloop.
21 Aug. - 3de been van SARL Digitale kompetisie.
28 Aug. - SARL HF-GG-kompetisie.

SARLNUUS nooi klubs en individue om nuusbrokkies wat radioamateurs en kortgolfluisteraars sal geniet, in te stuur. Stuur dit - indien moontlik - in beide Engels en Afrikaans, na www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later as die Donderdag voor uitsending nie.

Die SARL nooi u ook om te luister na die program Amateurradio VANDAG wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 750 kHz. Daar is ook 'n potgooi-uitsending deur ZS6RO. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op 'Amateur Radio TODAY', gaan af op die groen kolom en klik op 'LISTEN ON THE WEB'. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 18:30 SAT op 3 230 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n bulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga, saamgestel deur George, ZS6NE.

Dankie dat u geluister het, 73.
/EX


Ten einde u inskrywing op hierdie subskripsielys te verander of dit daarvan te verwyder, gaan na www.sarl.org.za/members/admin/maildat.asp.
members/admin/maildat.asp.


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003